Renda

Renda

Sunday, January 30, 2011

30 Januarie 2011

Hallo vriende en familie. Renda verander nou regtig in 'n klein mensie! Sy is pragtig en het wakker,lewendige ogies wat alles rendom haar raaksien. Hierbo ontspan sy heerlik op pappa en mamma se bed. Sy le graag in die donkie wat haar  tannie Elize spesiaal vir haar gemaak het.

Renda geniet dit baie om te bad! Hier is tannie Elize besig om haar hare te was. Dit is vir my heerlik dat Elize orals help waar sy kan. Dit gaan soms holderste bolder en dan druk ek op haar knoppie. 

Ek kies elke more 'n outfit vir die dag. Hier kyk ons net of dit die een is! Het al gebeur dat ons 5 keer oor aantrek todat ons altwee tevrede is!

Hier is ons in een van die gunsteling pakkies. Lyk nes 'n regte ou dogtertjie.

Kom nou, kyk mooi vir die kamera.

Sy geniet die speelmat baie. Soms skop die voete iets raak of die hande stamp iets raak, dan beweeg als! Sy raak opgewonde as die dinge gebeur.
Ek het nooit die kamera saam geneem toe ons gegaan het vir die inentings nie! Sjoe julle maar dit het katte en honde gereen. Ek het 'n afspraak gemaak by storks nest by UNITAS hospitaal vir Woensdag 26 Jan. Dit was 'n pragtige suster wat ons gehelp het en die inentings gegee het (3 van hulle!!) Sussie het vir die eerste keer gehuil dat daar trane in haar ogies was. Ek het alles mooi hanteer en nie 'n traan gestort nie. Ouma Arenda het darem ook saam gegaan. Ek dink Sussie het die inentings mooi hanteer. Daar was nie Baie ongemaklikheid of koors en sulke dinge nie. Ek is baie dankbaar daarvoor.

Ons moet darem een aktiwiteit doen, so ek het ons ingeskryf vir Kindermusik klasse! Ons begin Maandag 31 Januarie. Sal definitief onthou om fotos te neem en aan te stuur sodat julle kan sien wat ons in die klasse doen. Ons is baie opgewonde en kan nie wag om te begin nie! 

Dit gaan goed met die voedings en Sussie slaap al langer deur die nag. (gooi nou natuurlik my dagvoedings biki omver, maar nou ja, sal dit vinnig weer fix tot in 'n mooi roetiene). Alles verder goed hier by ons sonder Thys by die huis. Ons mis hom baie maar cope mooi.

Sal weer later nuus aanstuur oor die doen en late van Renda!

Liefde vanuit die de Beer huishouding

Wednesday, January 19, 2011

19 Januarie 2011

Hallo aan al die vriende en familie! Renda was gister 6 weke oud en sit gaan so goed hier by ons! Ons is bedrywig en aan die gang al is ons pappa nie hier nie. Die Potgieters het Sondag 9 Januarie by ons kom tee drink. Renda was natuurlik die ster en het dit so geniet om saam met hulle te kuier!


Oom Chris het die 11de Januarie verjaar. Hy was by die huis en Renda het dit baie geniet dat hy kom kuier het en spesiaal vir haar wou vashou.

Nou ja, Oupa Daan moet ok sy beurt kry on vas te hou, kyk hoe lekker glimlag Renda vir hom!

Hier is 'n baie trotse ma met haar poppie op die skoot.

Hier het ons sommer 'n lekker gesins foto geneem saam op die bed.

Hier het ons vir ouma Bettie en oupa Hans en Ewan gaan kuier. Ewan was natuurlik nie so beindruk met sy ouma wat nou haar aandag aan die nuwe niggie gee nie! Hy het nou noggal gemik om Renda se hare te trek. Toe sy ok nou net 'n ongemaklike oomblik beleef en bietjie knieserig is, besluit Ewan om haar voor te spring en trek toe luidkeels weg met goeie volume. Dit was vir my so kostelik en ek het lekker gelag!
Ons het die naweek bietjie in Kroonstad gaan kuier. Dit was Renda se eerste ver uitstappie en sy was wonderlik soet op die lang pad.Elize het bestuur en ek het agter by Renda gesit en haar geselskap gehou. 
Dinsdag het ons die pediater gesien. Hy is 'n wonderlike man en werk pragtig met die klein babatjies. Dr. Mulder is baie tevrede met Renda en ek is so 'n trotse ma! Alles lyk goed. Sy weeg nou 4.55kg, is 56 cm lank en die koppie se omtrek is 38 cm. Dit gaan goed met al die voedings en Dr. se ek is baie gelukkig wat dit aanbetref. Ons het ook Renda se geboorte sertifikaat by die hospitaal gaan afhaal. 

Vandag (Woensdag) het die bybelstudiegroep vreindinne van ouma Arenda en oupa Daan kom tee drink en kom kyk hoe mooi is Sussie. Mamma se vriendin Vicky het ook kom tee drink. 

Ek het afspraak gemaak vir Sussie se inspuitings in volgende week. Hoop my swak hart sal dit hou! Het reeds vandag vir Elize gevra om emla room te gaan koop sodat ons die velletjie bietjie kan verdoof voor die inspuitings. Sal julle alles daarvan vertel in die volgende update.  

Dit gaan goed met my en Renda hier by die huis sonder Thys. Elize help vreeslik baie en ek is bly dat sy hier is. Mis hom baie in die aande - die lee kol langs my op die bed, die opstaan in die nag om Renda se doek om te ruil en haar te gaan haal vir voedings en weer te gaan neersit. Maar ons is ok!
Sal later weer nuus aanstuur oor sussie se doen en late!

Liefde vanuit die de Beer huishouding

XXX

Saturday, January 8, 2011

8 Januarie 2011

Hello aan al die familie en vriende! Renda was gister 'n maand oud, kan nie glo dat die tyd so vinnig verby vlieg nie.Eerstens moet ons darem net se: "Happy new year!" Ek probeer werklik my bes om die blog weeklikste update, maar julle kan sien dat ek heerlik faal in my pogings, maar hou goeie moed, vandag moet ek 3 weke se nuus vertel... Renda groei so vinnig en haar gesiggie verander maar elke dag. Natuurlik word sy vir haar ma net mooier by die dag. Ek geniet dit geweldig om pop te speel, dit is vir ons heerlik om ouers te wees! Lyk darem vir my asof  Sussie ook gelukkig is. 

Dit is so pragtig om haar te sien slaap, sy is maar gewoonlik so op haar maag en slaap 'n hond uit 'n bos. Ons is baie gelukkig wat die voedings aanbetref. Sy drink elke 4 ure. Ek voed haar 9uur, 1uur en 5uur. Soms slaap sy bietjie langer en dan rus ons ook vir'n langer rukkie. Thys het een oggend toe hy haar gaan haal vir voeding (6 uur) vir my gese dat sy darem 'n goeie nag gehad het, ek het hom toe net meegedeel dat hy die vroeg oggend voeding heeltemal gemis het! Ons het heerlik gelag, maar hy het vir my gese dat hy daardie oggend besonder uitgerus gevoel het!

So het ons ook ons eerste Kersfees beleef. Sussie het haar pragtige outfit vir die dag aangehad. Die borslap se: "my first christmas breakfast" Ons het 'n heerlike dag gehad. Sussie het BAIE oupas en oumas.Oupa Hans, ouma Bettie, oupa Daan, ouma Arenda, ouma Marthie en ouma Elize het hier kom eet. Ons was vroegoggend kerk toe, letterlik vroeg, ons het die 7 uur diens bygewoon. Ek het sommer die orrel vir die diens gespeel. Thys het vir Sussie in die pram gestoot en dit het ons amper 5 minute gevat net om voor te kom soos almal hom in die paadjie stop en na Sussie wil kyk. Ds. Cassie het op 'n stadium opgestaan en gese mense kan na die diens na haar gaan kyk. 'n Groot bederf was toe hy na die voorsang en afkondigings vra dat Thys haar vorentoe bring sodat hy haar vir die gemeente kan wys! Sy het tot applous gekry. Ons het BAIE spesiaal gevoel. Sy het doodstil deur die hele diens geslaap en die orrel het haar nie een keer gepla nie. (Sy is dit gelukkig gewoond al van lankal af)

Ons het vir Elize gevra om vir ons die foto te neem toe sy by die huis kom. Sy en Chris het Kersdag gewerk. Sussie se borslap se: "my first christmas dinner". Ons het op Kersdag ook met van die familie geskype, so dit was 'n dag vol pret en opwinding. 

Hierbo is ek en Renda by die roostuin wat Thys geplant het wat oupa Dries en ouma Elbeth gebring het.

Hier is 'n lekker gaap wat ons op kamera vasgevang het!

Nou ja, hoe ken julle vir mamma? Die naels moet gevyl en geknip word!

Hier lyk sy vir my soos 'n regte ballerina! Die pragtige pakkie moet natuurlik afgerond word met 'n paar pragtige skoentjies!

As sy so stil le is sy vir ons pragtig en moet ons net fotos neem! Die toppie lees: "I'm small but I know stuff!"

Die pop het tannie Lien en 'n vriendin spesiaal vir Renda gemaak. Julle, Sussie kan heeldag net vir die pop kyk en met haar gesels!
 Nou sommer net nuus van die dinge wat die week gebeur het, (het nie fotos by nie). Ons het Donderdag vir 'n professionele fotosessie gegaan by momento photography. Oom Tinus se fotos is pragtig! (Sal aanstuur as ons klaar laat edit het). Julle wat 'n dag! So jaag ek my vrek om alles klaar te kry sodat ons 9 uur daar kan wees.(Is gelukkig net om die hoek van ons). Elize het gelukkig saam gegaan om net te help. Sy help ons geweldig baie en ons is dankbaar daarvoor. Nou ja, Thys en ek moet 'n stel swart en 'n stel wit klere saam neem. Vir Sussie neem hulle sommer kaal af. (baie soos kuns fotos, maar jy kan dit darem in  die sitkamer hang). Sussie is die rustigheid van self en ons begin. Hulle boek 'n lang sessie vir new born fotos en volg die pas van die babatjie. Dit was wonderlik! Niemand is gejaagd of gestres nie. Hier by 10uur skreeu sussie blou moord. Sy is honger! So stop die hele fotonemery en die blind word toegetrek sodat ek gou kan voed. Winde klaar uitgevryf en ons is reg om aan te gaan. (nou natuurlik met 'n vol maag en geen doek). Tussen die fotonemery se Elize vir ons ons moet net mooi kyk want toe sy vir Renda vat tussendeur, is daar briekmerke op die doek. Ai, ai. Daar poef sy 'n klein blertsie op pappa se hand en swart hemp. Gelukkig klaar met die swart fotos, nou kan ons wit aantrek. Pappa lyk pragtig en is net reg om 'n foto saam met Sussie te neem, toe piepie sy hom papnat!! Regdeur tot op sy eie onderbroek. Geen probleem- die merke kan uit ge-edit word. Neem toe 'n hele paar fotos met ons wit outfits. Mamma moet nou vir sussie vashou en so en so draai, Sy is nog so op my arms toe ek iets vreemds ruik. Toe ek afkyk is sy besig om oor my hele wit hemp 'n poefie te maak! Ons het ons pap gelag. Haar timing was perfek,ons is net klaar gewees met die wit fotos. Dit was 'n heerlike oggend met baie pret. 

 Thys is die 7de Ivoorkus toe, hy gaan sy meisiekinders baie mis en ons gaan hom ook mis(veral in die nag want hy het opgestaan om doek te ruil en winde uit te vryf). Ma en Sussie is sterk en Elize is hier om ook te help. Sal nog nuus stuur van die doen en late in die de beer huishouding aanstuur en probeer om dit weekliks te doen, kan niks belowe nie.
 Praat gou weer, Liefde die 3 de Bere.